VRAE

Vraag 1

Die voorsitter van Koppieskraal Primêre skool skakel vir advies. Daar is groot belangstelling in die verkiesing en dit blyk dat daar baie meer nominasies as plekke op die SBL gaan wees. Die voorsitter is opgewonde oor die groot hoeveelheid ouers uit die grondslagfase, maar is aan die ander kant bekommerd dat hierdie ouers mekaar baie sleg ken. Hy wil weet tot welke mate die skool die kandidate kan bekendstel aan die ouergemeenskap sonder om enige verkiesingsreëls te oortree.
Volgens die Nasionale “RIGLYNE INSAKE DIE VERKIESING VAN SKOOLBEHEERLIGGAME VAN OPENBARE SKOLE” mag ouers wat genomineer is, geleentheid gegee word om hulself bekend te stel. Dit is ook aan te beveel, aangesien veral ouers in groot skole in die stad, nie noodwendig die kandidate ken waarvoor gestem moet word nie. Par 12 (3) stel dit as volg: Die skoolkiesbeampte moet die prosedures wat gevolg moet word aan die verkiesingsvergadering verduidelik, en moet dit duidelik stel dat elke benoemde die geleentheid sal hê om kortliks minstens die volgende te noem: (a) Sy of haar naam (b) Die name en grade van sy of haar kinders in die skool (c) Sy of haar beroep en ervaring of vaardighede (d) Sy of haar visie vir die skool Hierdie is natuurlik ‘n riglyn. Solank elke kandidaat gelyke geleentheid gegee word om hom / haarself voor te stel, staan dit die skool vry om items by te voeg tot bogenoemde lys (bv. huidige betrokkenheid by die skool soos komitees, SBL of ander diens). By die voldag verkiesing kan die skool die kandidate op ander maniere voorstel aan die skoolgemeenskap soos bv. deur die bostaande inligting in ‘n e-pos vir al die ouers te stuur, ‘n foto van elke kandidaat in te sluit en hierdie inligting ook op die kennisgewingborde van die skool te plaas. Die belangrikste riglyn is om al die kandidate dieselfde te hanteer en om soveel al moontlike inligting by die skoolgemeenskap uit te kry sodat daar goeie besluite geneem kan word.

Vraag 2

Hoërskool Koppieskraal se SBL-voorsitter bel u vir advies. Met die SBL-verkiesing om die draai, is hy besig om potensiële kandidate te nader. Party kandidate is egter bekommerd dat hulle nie sal tyd kry om al die SBL-funksies te verrig nie, en wil weet of SBL-lede verantwoordelikhede aan ander kan delegeer, en indien wel, aan wie.
Uit die aard van die saak kan die SBL nie self al die werksaamhede verrig wat die Skolewet daaraan oplê nie. Dit is inderdaad ook nie die rol van die beheerliggaam om hierdie take te verrig nie. Die beheerliggaam vervul eerder ’n toesigfunksie, en is daarom genoodsaak om te delegeer. Die aangewese persoon aan wie die beheerliggaam die bevoegdheid moet delegeer om beleid en strategie uit te voer, is die skoolhoof. Dít beteken nie dat die skoolhoof op sy/haar beurt sélf al die betrokke funksies moet verrig nie. Dit beteken egter dat die skoolhoof die fokuspunt van verantwoordbaarheid en verantwoordelikheid in die skoolomgewing is. Ten aansien van die professionele gedeelte (die klasonderrig), is die skoolhoof teenoor die Onderwyshoof verantwoordbaar, en ten aansien van die ander aspekte van skoolbeheer en -bestuur teenoor die beheerliggaam. Die vraag hierbo moet aan die hand van die bepalings van artikel 19(2) van die Skolewet beantwoord word. Hierdie artikel bepaal soos volg: “(2) Die Departementshoof moet verseker dat prinsipale en ander beamptes van die onderwysdepartement alle nodige hulp aan beheerliggame by die verrigting van hul werksaamhede ingevolge hierdie Wet voorsien.” Dít impliseer dus dat die SBL nou eintlik die toestemming van die Onderwyshoof het, as om werksaamhede aan die skoolhoof te delegeer. Delegasie beteken egter nie abdikasie nie. Die SBL kan die uitvoering van die verpligtinge aan die skoolhoof delegeer, maar spring nie daardeur verantwoordbaarheid en verantwoordelikheid vry nie. ’n Beheerliggaam wat goed funksioneer, sal ook komitees hê wat hom in die verrigting of uitvoering van sy werksaamhede bystaan. Ook aan hiérdie komitees sal die SBL werksaamhede kan delegeer. Meer inligting oor die samestelling en werking van hierdie komitees, kan op www.fedsas.org.za gekry word. Finale aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid sal altyd by die SBL berus, en daarom kan ’n SBL delegasies aan die skoolhoof of ’n komitee terugtrek as omstandighede dit vereis.

Vraag 3

Hoërskool Koppieskraal se beheerliggaamverkiesing vind Vrydag plaas. Daar is 12 opvoeders wat deur die skool aangestel is en 32 opvoeders op die staat se diensstaat. Die skoolhoof is nie seker of die opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel is as opvoeders in die beheerliggaam verkies kan word nie. Adviseer die skoolhoof.
Die Suid-Afrikaanse Skolewet verwys slegs na opvoeders, en onderskei nie tussen departementele aanstellings en opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel is nie. Daarom kan enige opvoeders as opvoeders in die beheerliggaam verkies word.

Vraag 4

Die skoolhoof van Koppieskraal Primêre skool skakel vir advies. Die skool het ʼn groot koshuis en hy wil weet of hierdie personeel ook verteenwoordigers op die SBL moet verkies.
Alle nie-opvoeders (wat ook die koshuis personeel insluit) wat by die skool werksaam is, is geregtig om ‘n kandidaat in die verkiesing van die nie-opvoeder op die beheerliggaam te wees. Indien daar nie iemand van die koshuis verkies word nie, kan die SBL wel so persoon koöpteer of die koshuiskomitee gebruik om personeel te betrek. Sien art 23(6) en art 30 van die Skolewet.

Vraag 5

Koppieskraal Primêre skool se SBL-voorsitter bel u vir advies. Die SBL is gereed vir die verkiesing, en die kennisgewings is reeds uitgestuur. Daar het egter nou ’n navraag van die wettige voogde van twee leerders gekom, en die skool is nie seker hoe om die saak te hanteer nie. Die oupa en ouma is die wettige voogde, en word in die skool se register as die ouers aangedui. Die biologiese ouers woon in ’n ander provinsie, en is toevallig op die dag van die verkiesing in die dorp en sal graag aan die verkiesing wil deelneem. Die SBL wil weet hoe hulle die saak moet hanteer.
Dit kom daarop neer dat die vertolking van die omskrywing van ’n ouer nie ’n ‘en/of’ is nie, maar eerder ‘die een of die ander’, waar die een die ander uitskakel. Die woordjie ‘of’ is dus uitsluitend. ’n Kind kan net twee ouers hê. As daar voogde én ouers is, moet hulle maar self besluit watter twee sal stem. Hoewel die skoolregister as grondslag sal dien, sal dit baie moeilik wees om biologiese ouers by die stembus weg te wys.

Vraag 6

Koppieskraal Primêre skool se SBL-voorsitter bel u vir advies. Daar moet vir vyf ouers gestem word, maar net vyf benoemings is ontvang. Hoe nou gemaak?
Die antwoord verwys na die nasionale riglyne, maar elke provinsie moet ook hulle eie regulasies in dié verband raadpleeg. Indien die totale getal kandidate wie se benoemings goedgekeur is: • minder is as die voorgeskrewe getal SBL-lede, moet ’n nuwe vergadering binne 21 dae belê word, waar geen kworum vereis sal word nie; • gelyk is aan die voorgeskrewe getal SBL-lede, moet die kiesbeampte ál die benoemdes tot behoorlik verkose lede verklaar; of • meer is as die voorgeskrewe getal SBL-lede soos wat met betrekking tot die betrokke kategorie bepaal is, moet ’n verkiesingsvergadering as ’n tweede deel van die prosedure gehou word.

Vraag 7

Die skoolhoof van Koppieskraal Primêre skool skakel vir advies. Hy is die verkiesingsbeampte by die hoërskool en het pas die opleiding voltooi. Die Departement se regulasies bepaal dat daar nie meer as dubbeld die aantal beskikbare vakatures benoem mag word nie. Indien daar dus 6 ouers verkies moet word, mag daar nie meer as 12 nominasies ingedien word nie.
In Artikel 19 van die Grondwet word voorsiening gemaak vir die volgende: Politieke Regte 19(3) Elke volwasse burger het die reg om- (b) ‘n kandidaat vir ‘n openbare amp te wees en indien verkies, die amp te beklee. Die beheerliggaamverkiesing val binne hierdie bepaling omdat elke lid van die beheerliggaam ‘n openbare amp beklee en hierdie reg nie met enige provinsiale regulasie beperk kan word nie. Die provinsie se regulasie is dus ongrondwetlik en enige aantal kandidate kan genomineer word.

Vraag 8

Koppieskraal Primêre skool se skoolhoof bel jou vir advies. Sy wil graag weet of die graad R-ouers aan die beheerliggaamverkiesing mag deelneem, en hoe die getal kinders in die graad R-klas die getal leerders in haar skool vir doeleindes van die verkiesing sal beïnvloed.
In artikel 1 omskryf die Suid-Afrikaanse Skolewet ʼn skool as “ʼn openbare skool of ʼn onafhanklike skool wat leerders in een of meer grade van graad A (Aanvang) tot graad 12 inskryf”. Al die ouers op die toelatingsregister van die skool kan dus aan die verkiesing deelneem en is verkiesbaar in die beheerliggaam. Die getal leerders in graad R word as deel van die totale getal leerders gereken wat die grootte van die beheerliggaam sal bepaal.

Vraag 9

Hoërskool Koppieskraal se beheerliggaamverkiesing het Vrydag plaasgevind, en die nuwe beheerliggaam vergader eers volgende Donderdag die eerste keer om die ampsdraers te kies. Die skoolhoof wil weet watter beheerliggaam tot Donderdag aanspreeklik is: die ou beheerliggaam of die nuut verkose een?
Die ou beheerliggaam hou op funksioneer die oomblik as die nuwe een se verkiesingsuitslag bekend gemaak is. Die term ‘konstituering’ is eintlik maar net ʼn verkiesing van ampsdraers en nie die wegspring of ontstaan van ʼn nuwe beheerliggaam nie. ʼn Skoolbeheerliggaam se ampstermyn is drie jaar. As die termyn voor die nuwe verkiesing verstryk het, bestaan daar eenvoudig geen beheerliggaam nie. Sien die uitspraak van Stutterheim High School v. MEC Eastern Cape.

Vraag 10

Hoërskool Koppieskraal se hoof bel jou baie bekommerd. ʼn Departementele amptenaar het hom meegedeel dat die Departement nog nie sy skool se nuwe beheerliggaam bekragtig het nie, en dus dringend vir die name wag sodat hulle ʼn wettige beheerliggaam kan daarstel. Die hoof deel jou mee dat hulle beheerliggaam al vier vergaderings gehou het en die naweek ook ʼn strategiese beraad gehad het. Die skoolhoof wil weet of dít beteken dat nie een van hul besluite afdwingbaar is nie.
Die Suid-Afrikaanse Skolewet vereis geen bekragtiging van ʼn beheerliggaam deur enige departement nie. Sodra die beheerliggaamverkiesing se uitslae bekend is, is dít die nuwe wettige verkose beheerliggaam wat onmiddellik met hul werksaamhede moet begin. Die vereiste in sommige provinsies dat die name binne 14 dae ná die verkiesing aan die Departement gestuur moet word, is bloot vir administratiewe doeleindes en het absoluut niks met die wettigheid van die beheerliggaam te doen nie. Daar is daarom niks te bekragtig nie.

Vraag 11

Die voorsitter van Hoërskool Koppieskraal skakel vir advies. Die beheerliggaam is pas verkies en hy is tydens die eerste vergadering weer as die voorsitter verkies. Hy merk dat die wet nie voorsiening maak vir die verkiesing van ʼn onder-voorsitter nie en wil weet of hulle verkeerd optree deur ʼn onder-voorsitter te verkies.
Die Skolewet bepaal soos volg: 29 Ampsdraers van beheerliggame (1) 'n Beheerliggaam moet uit sy geledere ampsdraers verkies wat minstens 'n voorsitter, 'n tesourier en 'n sekretaris moet insluit. Daar is geen beletsel vir die verkiesing van ʼn onder-voorsitter nie en dit is eenvoudig baie prakties om dit so te doen.